40 Indrukke oor die toekoms.

March 3, 2017 — 2 Comments

Hoe lyk die toekoms van die Kerk in Suid Afrika? Wat wag vir ons? Waarvoor moet ons ons gereed maak?

Die VSA is aan die voorpunt van verandering en in terme van kultuurskuiwe, ‘n paar jaar ons vooruit. Ek was bevoorreg om bykans ‘n maand lank in die VSA ‘n studietoer mee te maak na oor die 20 bestemmings – verspreid oor 9 state.

Hierdie is die 40 indrukke oor die toekoms wat ek terugbring. Dit help my om te probeer onderskei tussen 4 soorte indrukke:

  1. Kultuurskuiwe waarmee ons moet rekening hou,
  2. Gewaarwordinge oor teologie,
  3. Tendense in bedieningspraktyk en
  4. Indrukke oor leierskap.

1.) Kultuurskuiwe waarmee ons moet rekening hou.

Die kultuurskuiwe wat tans aan die gebeur is, kan mens op baie plekke oor verder lees. Ek wil dus nie te veel spasie daaraan wy nie. Ek gaan net 5 belangrike skuiwe noem wat ek aan my vel gevoel het:

1.1)   Die nuwe groot godsdiens.

Die ikoniese “Times Square” van New York

Daar is drie groot godsdienste in die wêreld wat kop-aan-kop “wedywer” vir die grootste gevolg. Alan Hirsch sê egter dat daar ‘n vierde, nuwe godsdiens is wat veel vinniger groei as enige van die ander drie: Dit is verbruikerskultuur. Ek het nie heeltemal die waarde van sy woorde besef totdat ek die impak van materialisme in die VSA gesien het nie. Wanneer jy in die strate van New York loop is die gesekulariseerde – en die geseksualiseerde – invloed van ‘n verbruikerskultuur oral rondom jou sigbaar. Noodwendig het dit ‘n groot gevolg vir die Kerk se boodskap en praktyk.

Die verstommende is dat Mike Buster van Prestonwood gemeente vir ons sê dat navorsing daarop dui dat 60-70% van die “buying power” oftewel koopkrag, tans in die hande van tieners lê. Dit is tieners wat besluit wat is mode en wat is oud, wat is in en wat is uit.

1.2) Die kommunikasie-ontploffing se produk is “geraas”.

Daar word elke dag biljoene spandeer om ‘n begeerte vir koopkrag by mense te ontlok. Hierdie appél word op ons gemaak deur die advertensiewese. Alles wentel om hierdie punt. Selfs die nuuskanaal wat jy volg spandeer miljoene daaraan om jou as kyker te behou, want dit het ‘n invloed op die prys wat hulle kan kry vir advertensies. Ons word dus gebombardeer met ‘n 1001 stemme wat elkeen ons tyd, energie en geld soek. Hierdie generasie het nie net ‘n kennis-ontploffing beleef nie, maar ook ‘n kommunikasie-ontploffing. Tussen al hierdie “geraas” waardeur mense moet sif, klink daar ‘n klein verdwaalde stemmetjie van die Kerk. Hoe gaan ons anders in hierdie dekade kommunikeer, wetende dat daar ‘n duisend ander stemme is wat ook die aandag van ons gehoor soek?

1.3) Tegnologie gaan ‘n al groter rol in ons lewens speel.

“Disconnectedness” in ‘n “connected” wêreld.

Mens kan eintlik nie genoeg beklemtoon hoe dramaties tegnologie die Kerk se werkswyse in die toekoms gaan beïnvloed nie. As ons net een voorbeeld opnoem: Niemand kyk meer hul tv-stories op die tyd wat die program uitgesaai word nie. Jy neem dit op en kyk dit op ‘n tyd wat jou pas. Niemand luister eers meer na ‘n direkte uistending oor die radio nie. Jy luister na die potgooi wanneer dit jou pas. Hoe beïnvloed dit die Kerk wat net een kontaksessie in ‘n week, op ‘n vasgestelde tyd het? In die VSA het ek gesien dat die gebruik van tegnologie nie ‘n plato bereik het nie, maar dat dit gaan toeneem. Op elke trein sit mense vasgenael agter hul selfone. Wat is die invloed hiervan vir die Kerk?

1.4) Hoër eise aan hierdie geslag.

Ja, die vorige geslag was ook besig. Ja, die vorige geslag het ook hard gewerk. Maar daar word op hierdie geslag se tyd aanspraak gemaak soos nog nooit tevore nie. Mikrogolwe en selfone sou vir hierdie generasie tyd op hande gee – maar dit is opgeslurp deur ekstra verantwoordelikhede. Dit is veilig om te sê dat skole vandag meer eise aan gesinne se programme stel, as ‘n generasie gelede. Werkgewers is ook nie meer tevrede met ‘n 40uur werksweek soos in die vorige geslag nie. Eposse bereik jou op jou selfoon voor 08:00 in die oggend en na 23:00 in die aand. Wat sê die aanspraak op hierdie generasie se tyd, vir die Kerk oor hoe ons tyd inkleur?

People have less and less time”.

Prestonwood gemeente is getallegewys een van die vinnig groeiendste makrogemeentes in die VSA. Daar is daagliks ‘n gemiddeld van 1600 funksies in die gemeente. Hoewel dit nie ‘n gemeente is wat in almal se smaak gaan val nie, moet mens kennis neem as so ‘n groot gemeente ‘n nuwe tendens onder lidmate opmerk. In ons vraag aan die gemeenteleiers oor wat die grootste uitdaging is wat bediening onder hierdie generasie kniehalter, was hulle antwoord: “People have less and less time”.

1.5) Lae lojaliteit

Dr Michael Brown van Marble Collegiate gemeente merk op dat een van die groot verliese van ons tyd waarmee jy verlief moet neem, is “the death of loyalty to the institution”. Die dae wat mense by ‘n kerk aansluit omdat dit “die regte ding” is om te doen, is verby. Nog minder gaan iemand by ‘n kerk aansluit omdat daar ‘n bordjie buite hang wat sê: “Methodist Church. All Welcome”.

In die verlede het kerkverband bepaal in watter gemeente iemand ‘n lidmaat gaan word. Vandag sluit mense nie meer by ‘n kerk aan oor wat die bordjie buite die kerk sê nie, maar oor wat binne die kerk aangaan.

So moeilik as wat dit is om iemand “by die deure te laat inkom”, so maklik is dit egter om iemand te verloor. Daar is ‘n geweldige lae lojaliteit by mense om deur probleme te werk. Mens sien dit in werksomgewings, huwelike en ook in die kerk. Ons kan daaroor kla en onsself jammerkry, maar dit gaan niks aan die kultuur verander nie. Die feit is dat ons ons koppe gaan moet rat om bestaande lojaliteit nooit vanselfsprekend te aanvaar nie, en verlore lojaliteit nie persoonlik te neem nie.

2 Gewaarwordinge oor teologie

2.1) Teologie bepaal strategie en gevolglik ook praktyk.

Dr Greg Waybright is besig om die teologiese onderbou van hulle gemeente aan ons te verduidelik.

Ja, daar was ‘n paar gemeentes wat dadelik weggeval en vir ons van al die oulike dinge vertel het wat hulle doen. Maar die werklik dinamiese gemeentes het eers met ons gepraat oor HÓÉKOM hulle doen wat hulle doen.

In hierdie verband dink ek byvoorbeeld aan Dr Greg Waybright van Lake Ave gemeente en Dr Scott Weimer van North Ave gemeente (om maar net ‘n paar te noem). Ek was getref deur die diep teologiese onderbou van hulle bedieninge. Mens moet altyd teen pragmatisme waak. Dit is baie moontlik om geweldig besig te raak met ‘n klomp dinge – waarvan baie selfs verdienstelike sake mag wees. Suksesvolle gemeentes kry dit egter reg om te snoei en hulle besig te hou met nét dit wat hulle bedieningsfilosofie ondersteun. Ek het al voorheen op my blog na Simon Sinek se “Start with why” verwys, en dit is vir my duidelik dat suksesvolle gemeentes baie deur sy werk beïnvloed is. Etlike gemeentes het direk of indirek na hom verwys.

2.2) ‘n Christosentriese beklemtoning.

Ons was met Halloween asook ten tye van die presidensiële verkiesing in die VSA. Ek is getref hoeveel van die suksesvolle missionale gemeentes vir ons genoem het dat hulle hul daarvan weerhou om die kultuur rondom hulle te kritiseer. Hulle weerhou hul doelbewus van uitlatings wat die indruk skep dat hul veroordelend oor iemand is.

Chase Oaks gemeente het onder andere vir ons genoem dat hulle al deur medegelowiges gekritiseer is omdat hulle nie hul sterker uitspreek in die Amerikaanse debat oor aborsies nie. Maar hulle weier volstrek om vir lidmate voor te sê of hulle vir die Republikeine of vir Demokrate moet stem. Dit is eenvoudig te verdelend van aard. In die gesprek met gemeenteleiers het hulle gesê dat hulle teen “culture bashing” is en eerder “Gospel centered” is. Natuurlik is baie van die etiese sake rondom ons belangrik, maar mens moet onthou dat die Christene in baie wêreldlinge se oë net ‘n klomp mense is wat ander veroordeel. Om los te kom van hierdie stigma, moet mense eerder hoor waarvóór jy is as waartéén jy is. Chase Oaks spreek nie haarself uit teen die plaaslike ontkleeklub nie. Inteendeel, hulle het ‘n beleid dat hulle boikotte, boikot. Hulle fokus op Jesus.

Die “New City Church” kerkplantingsprojek in Los Angeles het my geïnspireer!

New City Church in die hartjie van Los Angeles se stad, word op ‘n daaglikse vlak gekonfronteer met polisiegeweld teen swart mans. Daar is ‘n diep vertrouensbreuk tussen die gemeenskap en die polisie. Die gemeente het haarself afgevra wat hulle kan doen om prominensie aan die #BlackLivesMatter beweging te gee. In reaksie hierop het hulle byvoorbeeld “trust talks” tussen die polisie en die buurt gefasiliteer. Maar Kevin Haah, die leierleraar van New City Church, sê dat hy homself die heeltyd moes vra of die evangelie steeds in die kollig bly. Dat die kerk by sake van sosiale geregtigheid betrokke is, is ‘n móét. Om die liefde van Jesus te vergestalt in praktyk is immers ‘n belangrike deel van die evangelie. Maar dit mag nooit die verlossingsboodskap oorskadu nie.

Ons sit ook met brandende sosiale vraagstukke in Suid Afrika en ook in die kerk. Hierdie klem op ‘n Christosentriese teologie het dus sterk by my geresoneer.

2.3) ‘n Missionale identiteit

Ek wil dit weer onderstreep dat ‘n Christosentriese klem nie die belang van sosiale geregtigheid misken nie. Dieselfde gemeentes wat gekies het om “Gospel centered” te wees, is ook die gemeentes met die mooiste verhale van betrokkendheid in hulle buurte.

Chase Oaks se mikpunt is om deur hulle lidmate, 10 000 ure vrywillige diens per maand aan die gemeenskap te lewer; genoeg kos om 10 000 mense vir ‘n week te voer en $100 000 te gee vir nie-winsgewende organisasies wat kontant benodig vir bedieningsmoontlikhede in hulle omgewing.

Die uitvoerende leraar, Glen Brechner, sê dat enige gemeente se “gravitational pull is always inward”. Daarom moet leiers méér intensioneel aandag daaraan gee om na buite gerig te wees. Dit is met ander woorde vir kerke meer natuurlik om sorg aan lidmate te gee as aan nie-lidmate. Om hierdie rede sê hy het hulle gekies om “externally focused, internally healthy” te wees. Hulle “na-buite-gerigtheid”, vermag hulle deur sosiale geregtigheid en humanitêre werk in die gemeenskap. Brechner sê: “Good works create good will”.

Dr Michael Brown van Marble Collegiate het byna dieselfde woorde gebruik toe hy gesê het: “Good deeds lead to good favour, that enables us to share the good news”. Voor ons geloofwaardig genoeg gaan wees om met hierdie geslag oor Jesus te praat, gaan hulle ons lewens dophou om te sien watter verskil dit maak. Daarom sê Prof Kenda Dean van Princeton: “Millennials are concerned with our social agenda”.

Terug by Chase Oaks, sê Brechner dat hierdie “na-buite-gerigtheid”, gevra het dat hulle “sukses” sal moet herdefinieer. “Sukses” sou voortaan nie meer vir Chase Oaks ‘n groot gemeentesentrum wees nie, maar sukses is eerder as hulle gemeente ‘n behoefte in die gemeenskap raaksien en dit vervul.

Dr Stan Wood gebruik die B.L.E.S.S. akroniem.

Hierdie “na-buite-gerigtheid” is natuurlik maar net ‘n ander manier van praat oor missionale denke. Die missioloog Dr Stan Wood sê dat ná ‘n paar jaar van lidmaatskap in ‘n gemeente, lidmate weinige kontak met nie-gelowige vriende oor het. Daarom moet ons lidmate kort-kort uitdaag om ten minste 3 vriende op te soek wat nie-gelowig is nie. ‘n Maklike manier hoe jy lidmate kan bemagtig om dit te doen, is aan die hand van die Bless-akroniem:

  • BBegin pray (begin deur vir die Here te vra wie Hy wil hê jy moet bevriend)
  • LListen (jou eerste stap sal wees om by jou vriend te leer. Jy doen dit deur te luister)
  • EEat (Neem jouself voor om gereeld saam met die persoon te eet)
  • SServe (Dien die persoon in ‘n behoefte wat daar dalk mag wees)
  • SShare (Wanneer jy al hierdie gedoen het, mag jy jou getuienis met jou vriend deel)

Dr Wood pleit by kerkleiers om ander maatstawwe van “sukses” te gebruik. Hy vra dat ons in plaas daarvan om mense te tel wat Sondag in die aanbiddingserediens was, eerder sal tel hoeveel van ons lidmate intensioneel verhoudings met kerklos mense kultiveer. In plaas daarvan om die hoeveelheid programme te tel wat die gemeente aanbied, tel eerder die hoeveelheid mense wat met ‘n missionale gerigtheid in die gemeenskap leef.

Divine indicative precedes human imperative”~ Prof Sally Brown

Oor die belangrikheid van missionale gerighteid is daar nie ‘n vraag nie, maar oor die manier waarop ons dit motiveer deur ons prediking, het Prof Sally Brown van Princeton ‘n groot probleem. Sy pleit dat ons altyd sal onthou: “Divine indicative precedes human imperative”. Dit is ‘n gruwelike teologiese fout indien ons mense motiveer om missionaal te wees, deur woorde soos “must”, “should” en “ought” te gebruik, sonder om eerstens te sê dat God rééds die aanvoerwerk gedoen het, en rééds teenwoodig is op die plek waarheen ons oppad is. Sonder hierdie teologiese aksent verval mens in moralistiese prediking. Ek besef dit klink dalk vir baie mense na blote semantiek, maar Prof Brown se klem was vir my “soet teologiese water”.

Prof Sally Brown praat met ons oor wat ons beweegredes is om missionaal te wees.

Being missional is not a strategy, but an identity”~Prof Darrel Guder

Prof Darrel Guder het ook ‘n waarskuwing oor missionale denke gehad. Hy is die persoon wat vir alle praktiese doeleinde die term destyds bekend gemaak het. Hy sê dit grief hom dat missionale denke vir soveel kerke niks meer as ‘n “groeistrategie” is nie. Guder sê: “Being missional is not a strategy, but an identity”. Dit is nie iets wat ons bykomend doen nie, maar wie ons primêr is. Hierdie opmerking sluit vir my aan by die gedagte wat ek by Prof Malan Nel se boek “Identity Driven Churches” sien.

2.4) ‘n Verantwoordelikheid as rentmeesters.

Dit was vir my opmerklik dat suksesvolle gemeentes nie skroom om met hulle lidmate oor dankoffers te praat nie. Ek sê nie dit is vir almal ewe maklik om die onderwerp aan te raak nie, maar wel dat hulle nie die onderwerp vermy nie. Die rede is omdat hierdie gemeentes ‘n baie groot klem op rentmeesterskap plaas. Lidmate word deurgaans daaraan herinner dat dit wat die Here in hulle skoot geplaas het, nie hul eie is om op te gaar nie maar dat dit bestuur moet word ter wille van die koninkryk.

Een so voorbeeld is byvoorbeeld NorthPoint se jaarlikse “Be Rich” projek. Die titel is bewustelik misleidend geformuleer. Dit klink of dit ‘n reeks/projek is wat jou gaan wys hoe om ryk te word – gevolglik trek dit mense wat juis daarin belangstel. Maar baie gou-gou ontdek die deelnemers dat dít wat ons ryk maak, juis dít is wat ons weggee.

Te veel mense dink jy doen die Kerk ‘n guns as jy dankoffer gee. Hierdie gemeentes beklemtoon egter die feit dat vrygewigheid deel is van geestelike groei.

Volgens North Avenue het hulle die belang van die instandhouding van hul geboue te laat besef.

So waar as wat rentmeesterskap ‘n beginsel is waarvolgens lidmate moet leef, so waar is dit ook van kerkleierskap. North Avenue is tans besig om 4 van hulle geboue te restoreer. Dr Scott Weimer sê dat hulle vir so lank daarop gefokus het om missionaal gerig te wees, dat hulle nagelaat het om hulle geboue in stand te hou. Vir ‘n tyd lank het dit vir hulle gewerk en hulle geloofwaardig in die gemeenskap gemaak. Dit was selfs vir hulle ‘n “badge of honor”. Maar dit blyk nou dat dit nie goeie rentmeesterskap aan hulle kant was nie, en hy spreek sy spyt uit dat hulle nie beter instandhouding oor die jare gedoen het nie.

Daarom beklemtoon North Avenue gemeente nou die beginsel van rentmeesterskap in alles wat hulle doen. Dr Weimer sê dat die interessante is, hoe meer die beginsel posvat onder lidmate, hoe meer ontdek hulle as gemeente dat wanneer die gemeente iemand se dankoffer ontvang, ontvang hulle baie meer as net geld. Daar waar iemand geld spandeer, lê die persoon se hart. Wanneer iemand dus tot die stap kom om dankoffer te gee, ontvang jy nie net rand en sent nie, maar wen jy ‘n betrokke lidmaat. Ek sal in die toekoms beslis ook meer teologies besin oor die belang van rentmeesterskap.

2.5) ‘n Ooreenkoms met die eerste eeu

Die Choluteca-brug staan deesdae nutteloos langs die rivier.

Ons heel eerste teologiese lesing is aangebied deur Dr Stan Wood. Hy het vir ons die fassinerende storie van die brug oor die Choluteca rivier vertel. Die rivier het sy koers verander en die brug staan nou doelloos langs die rivier. Op ‘n soortgelyke wys sê Wood, het die kultuur van vandag sy loop geneem en staan die kerk in baie gemeenskappe “nutteloos” rond.

Ons staan nie meer soos in dae van die verlede, met die hef in die hand nie. Daar is nie meer sprake van ‘n “volkskerk” of dat die kerk politieke bedingingsmag het nie. Die feit dat kerke “mag” en “aansien” in die samelewing verloor het, veroorsaak vir baie kerkleiers ‘n soort angstigheid. Hulle weet in baie gevalle nie hoe om op te tree in vandag se tyd nie.

Dr Stan Wood se raad is dat ons ons DNA moet herontdek. Volgens hom het die Kerk van vandag meer raakvlakke met die vroeë Kerk as met die Kerk van twee of drie dekades gelede. Die eerste gemeentes was sonder enige politieke mag. Die Kerk was geminag, verkleineer, gespot en selfs vervolg.

Hierdie was ‘n tema wat ek deurgaans op die studietoer gehoor het. Prof Darrel Guder het byvoorbeeld ook daarna verwys en bygevoeg dat die blote verskynsel dat Kerke nog enigsins voel hulle moet persverklarings uitreik oor dit wat die regering van die dag aanvang, die laaste oorblyfsel van ‘n “volkskerk mentaliteit” is. Dit word volgens hom gedoen deur Christene wat nog nie verlief met die feit geneem het dat die regering nie omgee wat die Kerk dink nie.

Die refrein dat die kerk van vandag eintlik in ‘n baie soortgelyke situasie as die vroeë Kerk sit, het ek tot op die laaste dag gehoor. Joey Rick van Washington se National Cathedral het gesê: “We experience what the 1st century Church experienced: A broad missional field and a deep spirituality”. Sy is natuurlik reg, dit voel vir jou of Amerika gaan vedrink in al die soorte spirituele kleure en geure. Maar die vroeë Kerk het ook haarself in ‘n diverse, politeïstiese kultuur bevind.

Die wonder is dat die Kerk se eerste eeu konteks, nie tot die Kerk se ondergang gelei het nie. Inteendeel, dit het juis die grond vir eksponensiële groei voorberei. Mens sou dus kon sê dat indien vandag se Kerk dit kan regkry om haar oorspronklike DNA te herontdek, sy gerat is vir groei.

2.6) Onderskeid tussen “Evangelikaal” en “Evangelies”

‘n Term waarmee baie Kerke in die VSA identifiseer, is “evangelical”. Hierdie term probeer iets te kenne gee van ‘n gemeente se teologiese uitgangspunte.

In ‘n gesprek met Prof Malan Nel het hy egter daarop gewys dat die term nie sondermeer in Afrikaans vertaal kan word met “evangelies” nie. Wat ons met ‘n “evangeliese” spiritualiteit bedoel en wat die Amerikaners met “evangelical” bedoel, is nie dieselfde nie.

Licona se werk oor die kuns van geskiedskrywing waar hy ‘n vergelykende studie tussen die evangelieskrywers en Plutarchus maak.

Evangelical” kerke het teologiese uitgangspunte wat dikwels baie behoudend is – sommige sal selfs dit fundamentalisties tipeer. Neem byvoorbeeld ‘n saak soos Skrifinterpretasie. “Evangelical” kerke se standpunt kom byna neer op ‘n soort meganiese inspirasie, wat nie heeltemal strook met dit waarmee ons in die Gereformeerde tradisie gemaklik is nie. In hierdie verband kan ek byvoorbeeld noem dat ‘n behoudende Nuwe Testamentikus soos Michael Licona (wat sterk standpunt inneem vir ‘n letterlike opstanding van Christus), oor die kole gehaal is deur “evangelical” kerke oor sy nuutste navorsing. Hierin verklaar hy die oënskynlike teenstrydighede tussen die evangelies, aan die hand van hoe geskiedskrywingstegnieke in die antieke tyd gewerk het. Hy vergelyk die inhoud van die evangelies, met Plutarchus se geskiedskrywing, en verklaar op ‘n verstommende manier die diskrepansies.

Hoewel Licona steeds die Bybel se onfeilbaarheid onderskryf – net nie ongekwalifiseerd nie – voel baie “evangelicals” dat sy werk die Skrif se gesag aftakel. Persoonlik maak Licona se argumente vir my baie sin, en beleef ek die “evangelical” kerke se konserwatisme te eng.

Wanneer ons egter die term “evangelies” in Afrikaans gebruik, verwys ons nie na hierdie soort konserwatisme wat mens in die VSA vind nie. Ons bedoel om deur die term iets te kenne te gee van ‘n hart wat warm klop vir Jesus – ‘n hart wat passievol oor die verlossingsboodskap is – ‘n hart wat nie mense wil sien verlore gaan nie.

Daarom kan ons nie sondermeer die term “evangelical” met “evangelies” gelykstel nie. Volgens Prof Nel is die benaming “evangelikaal” dalk ‘n beter ekwivalent vir “evangelical”.Hierdie onderskeid het my baie gehelp. Ek beskou myself as iemand wat “evangelies” is, maar toe ons in die VSA was, het ek by sommige van die eng “evangelical” kerke ontuis gevoel. Hierdie onderskeid het my dus gehelp om my vinger op die verskil te sit – en dit gaan my ook in die toekoms help wanneer ek in my leeswerk met die terme te doen kry.

2.7) Ons Godsbeeld bepaal ons bedieningspraktyk.

Een van die heel belangrikste teologiese klemverskuiwings wat ek by etlike gemeentes raakgesien het, was hoe jou Godsbeeld jou bedieningspraktyk beïnvloed – en hoe daar doelbewus gekies word vir nuwe maniere om oor God te praat.

Daar word na Fifth Avenue se skuiling vir mense wat in’n tydperk van haweloosheid is, verwys as die “Cadillac of shelters”, omdat soveel privaatheid vir mense gegun word. Lidmate van die gemeente word ingedeel om kry in die aande met die gaste te eet en te kuier. Dit is nog ‘n voorbeeld van “doing ministry with the poor”

Boeke soos “When Helping Hurts” en “Toxic Christianity” is ‘n paar keer aangehaal. Almal is deeglik daarvan bewus dat die manier waarop die Kerk byvoorbeeld barmhartigheid in die verlede bedryf het, baie skade aan mense en gemeenskappe gedoen het.

Die Godsbeeld wat agter hierdie manier van doen sit, is ‘n baie paternalistiese wêreldbeeld waar God die “barmhartige” een is wat aalmoese uitdeel – en die ontvanger moet baie dankbaar daaroor voel. Te veel uitreike regoor die wêreld het hierdie vorm aangeneem: Die Kerk ploeter in ‘n gemeenskap in en doen – gevraagd of ongevraagd – barmhartigheidswerk. Ons gesindheid is een van hovaardigheid – en ons kan nie verstaan waarom toon die mense nie die nodige dankbaarheid nie.

“It is not doing ministry for the poor but doing ministry with the poor”.~Matt Seadore

Volgens die sendingleraar van North Avenue gemeente, Matt Seadore, het juis hierdie vraag hulle in hul spore gestop: Waarom kom die mense na wie ons in die week uitreik, nie na ons eredienste oor ‘n naweek nie? Dit is tóé dat North Avenue hul Godsbeeld intensioneel begin verander. Hulle sou voortaan nie meer die barmhartige God uitbeeld nie, maar die geïnkarneerde God. Jesus het nie vir mense kom aalmoese gee nie. Hy het tussen hulle geleef. North Avenue worstel sedertdien met die onderskeid “Doing ministry for the poor versus doing ministry with the poor”.

Skielik word mense na wie uitgereik word, nie meer gesien as ‘n “afsetgebied” nie, maar as vennote. Hulle is nie die enigste “ontvangers” net omdat hulle van Kerklike barmhartigheid iets baat nie. Die gelowiges wat dien “ontvang” net soveel. “Húlle” het nie “óns” hulp nodig nie – “óns” het diensgeleenthede nodig om te groei.

North Avenue het tot die besef gekom dat as die gemeente waarlik by die mense na wie daar uitgereik word “leer”, dan moet dit ook in hulle struktuur weerspieël word. Daarom het hulle hierdie lede van die gemeenskap gekoöpteer op hulle kerkraad. Kan jy dink hoe sal die gesprekke op kerkraadsvlak verander as die mense na wie ons uitreik, sáám is as hulle bespreek word? Teologie beïnvloed nie net jou bedieningsfilosofie nie, dit het ook ‘n invloed op jou bedieningspraktyk: Skielik gaan dit nie vir jou om net dinge aan armes uit te deel nie – maar om mense wat behoeftig is se name en lewensverhale te leer ken.

Hierdie is ‘n reuse teologiese tema wat ook uitkristalliseer in die taal wat ons gebruik wanneer ons praat van mense na wie ons uitreik. Ons praat byvoorbeeld nie meer vandag van ‘n “blinde” nie, maar van ‘n “persoon wat blind is” (omdat blindheid nie die enigste kwaliteit is wat die persoon definieer nie).

Op ‘n soorgelyke wyse het bogenoemde kerke hulle taal tot so ‘n mate gewysig dat hulle nie meer praat van “hawelose mense” nie, maar van “mense wat in ‘n tydperk van haweloosheid is”. Dit onderstreep die feit dat hierdie mense net tydelik in ‘n krisis sit en dat hulle ook daaruit kan kom. Die maatskaplike werkers in gemeentes soos Central Avenue praat nie van “ons mensies” of selfs van “kliënte” nie – maar van “gaste”. As iemand jou gas is, ag jy die persoon hoër as jouself en is jy gasvryheid aan die persoon verskuldig.

3 Tendense in bedieningspraktyk

3.1) Dissipelskap gebeur nie per ongeluk nie.

Omdat dissipelskap een van ons gemeente se fokusareas is, het ek met valk-oë die onderskeie kerke dopgehou om te sien wat hulle doen om dissipels te kweek. Dit wil vir my lyk of een van die aardskuddendste gebeurtenisse in die Kerkwêreld in die afgelope paar jaar, Willow Creek se erkentenis was dat hulle nie daarin slaag om volwasse gelowiges genoegsaam geestelik te laat groei nie. Die reverberasies van hierdie erkentenis was dwarsoor die wêreld gevoel, omdat so baie gemeentes wêreldwyd op dieselfde model van kleingroepe, reekse en prediking geskoei is – ons gemeente inkluis.

Omdat Bill Hybels beskeie genoeg was om voor die oë van die wêreld hulle gemeente se tekortkominge te erken, kon die Here hulle verleentheid omskep in ‘n geleentheid. Vanuit Willow Creek se ontnugtering het die “Reveal” assessering gevloei en dit het sedertdien duisende kerke en gelowiges regoor die VSA geïmpakteer.

Nie net het die dosente by Fuller Theological Seminary daarna verwys nie, maar verskeie gemeentes (soos o.a. Lake Avenue en Nationa Cathedral) gebruik die Reveal assessering jaarliks. Gemeenteleiers Joey Rick en Elizabeth Gardner van die National Cathedral in Washington DC, gebruik die Reveal assessering om die vlak van dissipelskap in hulle gemeente te peil. Daar is ook bykomende materiaal wat hulle in opvolgkursusse gebruik, soos Donald Miller se “Storyline”.

Die navorsing van die Reveal-studie, toon aan dat mense in 1 van 4 kategorieë val:

  • Exploring Christ
  • Growing In Christ
  • Close to Christ
  • Christ Centered

Een van die bevindinge van die Reveal assessering, is dat verdere geloofsgroei by die “Christ Centered” lidmate slegs gestimuleer kan word deur middel van geestelike dissiplines en daaglikse tyd in die Woord. Om hierdie rede stel etlike gemeentes Bybelleesplanne beskikbaar sodat lidmate wat gereed is vir “vastekos”, groter kontak met die Bybel het. Saddleback se program word byvoorbeeld “DriveTime” genoem. Dit is ‘n daaglikse audio voorlesing van een hoofstuk uit die Bybel, tesame met ‘n oordenking van 10 minute. Die idee is dat mense dit in die kar of trein oppad werk toe luister. Chase Oaks se program word weer “Vertical” genoem. Dit is daaglikse eposse wat uitgestuur word en wat mense stelselmatig deur die Woord neem.

Verder word daar baie van toerustingkursusse gemaak (meer daaroor oor by ‘Strategiese toerusting’), asook die belangrikheid van dienslewering (meer daaroor by ‘Kultuur van diensbaarheid’). Etlike gemeentes maak van kursusse gebruik om nuwe gelowiges te orienteer en om die dissipelskapsproses te begin. Die Alpha kursus is seker die algemeenste kursus, maar verskeie gemeentes het ook hul eie kursusse ontwikkel. NorthPoint bied “Starting Point” aan en New City bied “Basic Beliefs” aan.

Dit is ook opmerklik dat gemeentes nie net assesserings gebruik om die stand van die gemeente te bepaal nie, maar ook persoonlike assesserings inspan om sodoende lidmate te begelei in ‘n “Personal Growth Plan” – oftwel ‘n “Persoonlike Plan vir Geestelike Groei”.

Die belangrike is dat dissipelskap nie vir hierdie gemeentes iets is wat “per ongeluk” gebeur nie. Hulle is intensioneel daaroor om groei te bewerk in elke gelowige en kanale te skep waar ernstige gelowiges kos kan vind.

In ons eie gemeente het ek in 2016 Bill Hybels se getuienis aangaande hulle ontnugtering met ons Kerkraad gedeel, en ons eie gemeente se assessering skop eersdaags in 2017 af. Ons stel ook reeds ‘n leesrooster beskikbaar om deur die Bybel te lees. Ek voel persoonlik geroep om meer te maak van kort toerustingsgeleenthede in ons gemeente. Verder het ek net besef dat dissipelskap nie oornag plaasvind nie. Die titel van Eugene Peterson se boek op hierdie tema is baie gepas: “A Long Obedience In The Same Direction”. Ek moet aanhou stap op die pad wat ons tans stap.

3.2) Die konteks word verreken en eienaarskap word geneem.

Ek het reeds genoem dat dit my tref dat suksesvolle gemeentes die geestelike welstand van die gemeente as geheel, asook van lidmate afsonderlik, voortdurend toets. Nog iets wat hulle fyn meet, is die demografie van die buurt waarin hul leef.

Joey Rick van die National Cathedral praat oor ‘n paar jaar vantevore as sy sê: “We were in a fantasy. We thought we knew our neighbourhood and what they need”. Vir die afgelope 10 jaar toets die gemeente nou jaarliks die demografie van die buurt. Sy sê dit is verstommend watter skuiwe net in 10 jaar al plaasgevind het. Die waarde van hierdie toetse is dat dit vir jou betyds ‘n vlaggie hys as daar iets aan die gebeur is. Dit het noodwendig ‘n invloed op wat jy in die gemeente aanspreek, wie jou teikengehoor is en hoe jy dit doen.

North Avenue is nóg ‘n gemeente wat hulle vinger fyn op die pols van die demografie van die buurt gehou het. Hulle het agtergekom dat die middestad besig is om te “ontvolk”, in die sin dat hulle bestaande lidmate wegtrek om hul eerder in die woonbuurte te vestig. Die gemeente het voor ‘n interessante besluit gekom. Hulle kon agter die lidmate aan trek en die gemeente hervestig in een van die “suburbs”.

Tog was die middestad nie sonder mense nie. Dit was net nie hulle “tradisionele soort” mense nie. North Avenue het ‘n roepingsbesluit geneem om kerk te wees in hul omgewing. Daardie besluit het sedertdien in hul programme en prediking neerslag gevind.

Come as you are. Be transformed. Make a difference.

Chase Oaks is nog ‘n gemeente met ‘n interessante verhaal van hoe hulle die gemeenskap getoets het. Hulle het marknavorsing gedoen oor wat die gemeenskap se indruk oor Christene oor die algemeen is. Die uitslag was baie negatief. Die drie woorde wat weer-en-weer opgeduik het, was “Judgemental”, “Hypocritical” en “Selfish”. Vanuit hierdie bevindinge het die gemeente se uiters treffende leuse ontstaan: “Come as you are. Be transformed. Make a difference”.

Ek dink die punt is dat die gemeentes wat my die meeste beïndruk het, in voeling was met hul omgewing. Hulle het nie duim gesuig oor hoe die demografie lyk, hoe die sosio-ekonomiese verspreiding daaruit sien, wat die behoeftes en die vooropgestelde idees van die gemeenskap is nie. Hulle het hul deeglik met hul konteks verreken en eienaarskap daarvoor geneem.

Ons skiet in hierdie verband baie tekort. Ons sal moet daadwerklik ‘n poging aanwend om die demografie van ons omgewing te peil.

3.3) ‘n Kultuur van diensbaarheid

Dit is opmerklik dat “diens” in die VSA ‘n uiters hoë prioriteit is. Nou praat ons nie van om as kliënt “diens” te ontvang nie, maar die belang daarvan om sélf diens te lewer. Etlike gemeentes noem die mobilisering van lidmate tot diens, as een van hulle hoofoogmerke. Neem byvoorbeeld Lake Avenue Church se 4 fokusvelde:  “Worship, Community, Service, Care”. Nortpoint se 4 mikpunte met lidmate is “Connect, Serve, Invite, Give”. Marble Collegiate is se leuse is “Honor God. Serve People”. Hopewell Metodiste Kerk se slagspreuk is “Everyone is gifted. Everyone serves”. Dit is om maar enkele voorbeelde te noem.

Die hoë premie wat op diensbaarheid geplaas word is nie net in die Kerk sigbaar nie, maar ook in die samelewing. Daar heers ‘n kultuur onder Amerikaanse burgers om ‘n deel van jou tyd aan instansies soos die DBV, die Hospice die tehuis vir bejaardes, plaaslike skool se bofbalspan of ander nie-winsgewende organisasies vrywilliglik af te staan. Die voorkoms daarvan is so hoog, dat mens partykeer wonder of die kultuur van diensbaarheid doelbewus geïnisieer word deur die kerke, en of dit nie dalk gewoon ‘n eienskap van ‘n eerste wêreldland is nie. Die verskynsel om van jou tyd op te offer vir ‘n verdienstelike saak is immers net so teenwoordig onder sekulêre Amerikaners as onder gelowiges. Juis om hierdie rede word kerke dikwels deur ongelowiges besoek wat diensgeleenthede soek. Central Avenue Presbiteriaanse gemeente getuig juis van hoeveel verhoudings hulle kon bou met ongelowiges wat net wou kom dienslewer by hulle skuiling vir mense wat haweloos is. Ander gemeentes (soos North Avenue) wy bladsye op hul webtuiste waar vrywilligers ‘n instansie kan vind by hy/sy kan gaan dienslewer.

Hoewel ‘n kultuur van diensbaarheid waarskynlik ‘n kenmerk van ‘n ontwikkelde land is, word dienslewering onder gelowiges nooit gemotiveer as blote “altruïstiese” gedrag nie. Dit word deurgaans gemotiveer as ‘n noodsaaklikheid om geestelik te groei. Wat my verder van die kerke opgeval het, is dat vrywilligers wat êrens dienslewer nie net aan hulle eie oorgelaat en vergeet word nie. Nee, hulle word opgevolg en toegerus (dit het my baie laat dink aan die “Hersey-Blanchard’s Contingency model”). In hierdie verband kan genoem word dat Marble Collegiate byvoorbeeld ‘n “Volunteer Appreciation Sunday” hou, waartydens daar bloot weer waardering teenoor vrywilligers uitgespreek word.

3.4) Die eenvoud van eredienste

Ek wil die volgende punt sensitief stel omdat ek besef dat dit baie emosie in mense losmaak. My waarnemings lei my egter tot die gevolgtrekking dat kerke wat hul eredienste met liturgiese rites inkleur, heelwat swaarder trek in vergelyking met kerke wat ‘n baie eenvoudige byeenkoms van gelowiges het.

Joey Rick & Elizabeth Gardner van die National Cathedral.

Joey Rick en Elizabeth Gardner is leraars van die National Cathedral in Washington – ‘n Episkopaalse Kerk. Hulle is dit eens dat hulle liturgiese tradisie in die erediens – hoe ryk en hoe mooi dit ook mag wees – een van die grootste struikelblokke vir besoekers is om te oorkom. Die kommunikasiehandelinge is in ‘n sekere sin “volksvreemd” en onverstaanbaar vir hierdie generasie. Hierdie leraars is selfs van mening dat die liturgiese vryheid van nie-denominasionele gemeentes, een van die belangrikste redes is waarom dit die kerkgroepering in die VSA is wat die vinnigste groei. Nie-denominasionele gemeentes is oor die algemeen jonk en het weinige gebruike wat geykte tradisies geword het. Hulle is soepel in die manier waarop hulle eredienste inkleur en in wat en hoe hulle dinge doen.

Dr Michael Brown van Marble Collegiate erken ook dat hulle gedurig voor die liturgiese vraag kom. Hy sê ‘n paar jaar gelede het hulle begin om hulle eredienste oor die internet uit te saai. Omdat die internet nie konteks aan gebeure gee nie, en hulle nie maar net goedskiks kon aanneem dat almal wat kyk begrip het vir die liturgie wat afspeel nie, moes hulle skielik vir hulself afvra: “How does the world see this?”. Ek dink dit is ‘n baie goeie vraag wat elke gemeente oor hul eredienste moet afvra.

Jake Meyers praat met ons oor homilitiek.

Jake Meyers is Prof Thom Long se opvolger in homiletiek. Ons kon met Meyers praat oor Frank Viola se onlangse stellings dat die “Emerging Church” beweging misluk het, ‘n beweging waarvan Meyers self ook deel was. Ondanks die feit dat die beweging nie alles opgelewer het wat daar op gehoop is nie, is Meyers oortuig van die feit dat prediking – en so ook die inkleur van eredienste – in die toekoms minder formeel sal wees en meer iets van ons huidige leefwêreld sal weerspieël. Meyers maak ook die interessante waarneming dat Kerke wat teologies meer progressief is, oor die algemeen geneig is om liturgies konserwatief te wees. Daarteenoor kry jy weer dat Kerke wat teologies meer behoudend is, oor die algemeen liturgies meer vernuwend dink.

Wat vir my van al die eredienste wat ons bygewoon het opgeval het, is die feit dat niks lukraak gebeur nie. Elke element is deeglik beplan.

Omdat ek myself in ‘n hoofstroom kerk bevind wat beslis geykte tradisies het, was die eenvoud van eredienste iets wat my baie aangestaan het. Ek worstel met die vraag watter elemente van ‘n erediens mens kan uithaal (of selfs net kan afwissel) om sodoende net groter verskeidenheid te skep.

Ek as predikant moes daarmee vrede maak dat nie almal by my as mens gaan aanklank vind nie. Op ‘n soortgelyke wyse moet ‘n gemeente daarmee vrede maak dat een erediens nie almal se spiritualiteite kan bevredig nie. Te veel keer probeer ons té veel oulike “rites” in ‘n erediens inpak – met die gevolg dat jy met ‘n halfgebakte produk opeindig wat niemand bevredig nie.

3.5) Is die Kerk ‘n liggaam of ‘n kudde?

Elke gemeente neig in praktyk óf na ‘n “herder-kudde-model” aan die een kant van die pendulum, of na ‘n “liggaamsmodel” aan die ander kant van die spektrum. Ek is bevoorreg om in Witrivier NG gemeente te dien wat al jare gelede ‘n skuif na die liggaamsmodel gemaak het.

Mens sou dus kon reken dat dit van my oorbodig sou wees om van vooraf te motiveer dat gemeentes wat liggaamsmodelle volg, waarlik dinamies is. Maar hierdie verskynsel was so prominent, dat ek blind sou wees as hierdie waarneming my nie weer opnuut opgeval het nie.

Prestonwood se gemeentesentrum.

Die refrein wat ons male sonder tal teëgekom het, was “Return the ministry to the people”. Mens sien hierdie bemagtiging van lidmate in elke sfeer. Iets soos omgeegroepe is byvoorbeeld niks nuuts nie. Ons sien al jare lank hoe omgeegroepleiers bemagtig word om die Woord te bedien in kleingroepe. Maar liggaamsmodel gemeentes bemagtig nie net die leier nie, hul neem dit selfs ‘n stappie verder. Elke lid van die omgeegroep word getaak met ‘n spesifieke verantwoordelikheid. Die een is ‘n aanbieder in opleiding, die ander is verantwoordelik vir die admin en afkondigings. Een lid sal die herder wees wat ander lede bel sodra hulle die derde week in ‘n ry nie opdaag nie.  ‘n Ander een is die gebedskoördineerder en nog ‘n ander een word getaak om sosiale kuiergeleenthede te reël (terloops, Prestonwood het bevind dat groepe wat 9 keer per jaar sosiale kuiergeleenthede reël, dubbeld so vinnig groei as ander wat dit nie doen nie). Die punt is egter dat elke lid bemagtig word met verantwoordelikhede.

Dr Steve Argue het o.a. oor die nuutste tendense onder die jeug met ons gepraat.

En dit is nie net van toepassing op die bediening aan volwassenes nie. Dr Steve Argue, Fuller Theological seminary se dosent in Jeugwerk, sê navorsing bewys dit is ook een van die grootste begeertes van tieners: Om wesenlike besluite omtrent die bediening te mag maak en om self ‘n impak te maak. In die boek “Growing Young, six essential strategies to help young people discover and love your church” word die metafoor van die oordrag van sleutels gebruik. Soos wat tieners bak hand by hul ouers staan en wag vir die sleutels van die kar, staan tieners ook en wag vir die sleutels van die Kerk. Gaan ons hul vertrou? Navorsing dui daarop dat hoe vroeër leiersfigure die “sleutels” van die bediening aan ‘n tiener oorgee, hoe beter is die kans dat daardie tiener se geloof permanent geanker word. Dr Argue waarsku kerkleiers teen die gevaar van hierargie. Vir tieners skep die kerk se hierargiese strukture die persepsie dat die gemeente bestuur word deur mense wat magsbehep en irrelevant geword het.

Kevin Haah van die New City Church kerkplantingsprojek in Los Angeles, praat ook graag oor die bemagtiging van lidmate. Hy sê: “We empower the disempowered” en vertel dan verder hoe hul omgeegroepe as “serve teams” in die gemeente en gemeenskap inspan.

3.6) Mense is opsoek na iets meer as net omgeegroepe.

Omgeegroepe is teen hierdie tyd nie meer iets nuuts nie. Byna elke gemeente het kleingroepe en het ook al die krag gesien wat opgesluit lê in hierdie bediening.

Maar daar is tog ook ‘n gepaardgaande teleurstelling. Omgeegroepe het nie alles opgelewer wat dit belowe het nie.

Joey Rick van die National Cathedral gebruik ‘n baie treffende vergelyking. Sy herinner ons dat opvoedkundige sielkundiges ons geleer het van “parallel play”. Dit is wanneer jy by ‘n speelgroepie instap en ‘n klomp 2 jariges langs mekaar sien sit en speel. Aanvanklik lyk dit of hul al te lekker met mekaar speel. Maar dan kom jy agter dat elkeen inderwaarheid op sy eie sit en speel.

Rick sê dat “parallel playing” een ding is, maar dat kerklidmate nie meer hulself ophou met “parallel praying” nie. Gelowiges wil nie maar net lyk of hulle besig is met dieselfde dinge, sonder om daardwerklik betrokke te wees in mekaar se lewens nie.

Dr Stan Wood eggo hierdie hunkering, as hy sê: “People hunger for community”. Mense wil nie maar net in ‘n omgeegroep ‘n Bybelstudie saam doen nie. Dit alleen bevredig nie meer nie. Mense se grootste behoefte is “doing life together”. Dit is een van die redes waarom Chase Oaks nie meer praat van “small groups” nie, maar van “life groups”. Dit verwoord iets meer van die behoefte om as gelowiges waarlik die lewe sáám te leef. Daar is ‘n diep soeke na ware geloofsgemeenskap – iets meer as wat ‘n kleingroep aan kan voldoen wat net bolangs met mekaar praat.

3.7) Gesinsbediening is aan die groei.

Daar is beslis ‘n hernieude besef oor die belangrikheid van gesinsbediening. Al die gemeentes wat ons besoek het, wend nuwe pogings aan om groter kontak tussen ouers en kinders te bewerk. Daar is deur die bank groot besorgdheid dat die spesialisering van kinderbediening ‘n verwydering van ouers teweeg gebring het, en dat dit reggestel moet word.

Die strategieë verskil van gemeente tot gemeente. Party gemeentes handhaaf hul tradisionele kinderbediening en bou addisionele gesinsmomente in. Ander gemeentes bereik die kinders uitsluitlik deur die ouers. En nog ander gemeentes probeer iets tussenin handhaaf – waar kinders die volwasse eredienste bywoon en op ‘n stadium verdaag om bedien te word op ‘n toepaslike ouderdomsvlak.

Een van NorthPoint se kinderkerklokale.

Van die gemeentes wat meer ‘n tradisionele kinderbediening handhaaf – met addisionele gesinsmomente – is NorthPoint gemeente ‘n voorbeeld. Een van die redes waarom NorthPoint se kinders en ouers nie saam bedien word nie, is sekerlik die feit dat daar sowat 2000 kinders by elke erediens opdaag. Die kinders kom dus van die begin af in hul lokale byeen, waar ouers deur middel van ‘n elektroniese sekuriteitsisteem die kind afteken en later weer ontvang. Daar word egter steeds baie staat gemaak op ouers se betrokkenheid in hul kind se geloofsvorming. Die ouers én kinders word byvoorbeeld genooi na ‘n maandelikse gesinsaand, genoem “KidsStuff”, waar daar onder andere ‘n geheeloorsig oor die maand se lesings gegee word. Dit stel ouers in staat om met hul kinders oor die materiaal te praat.

North Avenue is weer ‘n gemeente wat kinderbediening en gesinsbediening met mekaar trou. Hul kinder- en gesinsleraar se taal het my verbaas. Dieselfde gewaarwordinge wat ons in Witrivier beleef, lê op hulle hart. Hulle wil ook geleenthede skep waartydens kinders langs hul ouers sit sodat die kinders kan sien hoe ouers Bybellees en die Here loof. Maar dit is nie net die kind se ouers wat belangrik is in die kind se geloofsvorming nie. Hulle wil kinders ook blootstel aan ander volwassenes. Dit is vir hulle belangrik dat kinders verhoudings met ouer lidmate in die gemeente sal ontwikkel, want sodoende beleef die kinders eerstehands dat hul een groot geestelike gesin is. Tog sit hulle met ook met die wete dat kinders op ‘n toepaslike vlak bedien moet word.

Daarom vergader kinders saam met hulle ouers eers in die gesamentlike erediens om saam die lofprysing mee te maak. Net voor die preek verdaag hulle na klassies waar die gesprekke op ‘n toepaslike vlak vir kinders aangebied word.

Verder probeer die gemeente familiekomponente in alle fasette van die bediening te vestig, sodat beide oud en jong welkom sal voel. Hulle skep ook diensgeleenthede waar gesinne saam by ‘n uitreik betrokke kan raak. Hulle ontwikkel ook handleidings vir huisgodsdiens rondom die Lydenstyd en Kersfees, sodat ouers dit met hulle kinders kan deurpraat.

Daar word ook eposse na ouers gestuur om te vertel wat by die kinderbediening aangebied word, en watter vrae die ouers vir die kinders kan vra om gesprek by die huise los te maak. Verder ontvang ouers ‘n aktiwiteitspakket per kwartaal wat oulike idees vir gesinsaande bevat.

Daar is ook aan die begin van die skooljaar ‘n erediens wat hulle “The Blessing Of The Backpacks”noem. Dit is baie dieselfde as wat ons in Witrivier doen met die graad 1’s se doopviering aan die begin van die skooljaar. Ouers en kinders woon ‘n erediens by waartydens hulle ‘n etiket vir hulle skooltas ontvang. Dit is ‘n duursame etiket en blykbaar is daar kinders wat die som van al die onderskeie jare se etikette steeds op hulle tas dra. Die gedagte agter die etiket is dat kinders moet weet wie hulle is, asook wie s’n hulle is.

Etiket se voorkant

Etiket se agterkant

Chase Oaks is een van die gemeentes wat ek voel waarlik by die essensie van gesinsbediening uitkom. Terloops, hul gesinsbediening se naam is “Homelife”. Die naam is baie goed gekies – aangesien dit nie enkelouers uitsluit nie. Hoewel enkelouers met hul kinders ook ‘n gesin vorm, identifiseer enkelouers nie met die term “gesin” nie – waarskynlik omdat hulle nie die stereotipiese prentjie van ‘n Ma, Pa en twee kinders pas nie. “Homelife” is ‘n benaming waarmee meer mense

kan identifiseer. Eie aan Chase Oaks, kry hulle dit reg om ook hier hul visie in 3 kort treffende sinne op te som. Hulle stel hulself ten doel om die volgende te doen: “Build Life-long thriving marriages. Introduce children to Christ. Launch teens as committed Christ-followers”.

Alles wat hulle gesinsbediening bied, haak aan een van hierdie sinne vas. En hulle skroom nie om baie prakties te raak oor gesinslewe nie. Hulle het byvoorbeeld in die gemeentesentrum se voorportaal ‘n uitstalling waar lidmate blootgestel word aan alles wat die bediening bied. Daar is byvoorbeeld pamflette genaamd “Pointers” wat vir jou praktiese lewensadvies gee vir elke fase van die lewe waarin jy jou mag bevind. Alles van finansies tot die dissiplinering van kinders is daar. En hulle “DIY-kaarte” verskaf aan jou lekker praktiese idees vir gesinsaktiwiteite. Alles van “date nights” met jou eggenoot tot idees vir gesinspeletjies met die tieners is beskikbaar.

Chase Oaks se Homelife uitstalling.

Toe ons die leraars van National Cathedral uitgevra het oor die “herontdekking” van die belangrikheid om ouers en kinders saam te bedien – en hoe dit in praktyk behoort te lyk – was hul antwoord dat die neiging om kinderbediening en gesinsbediening teenoor mekaar te stel asof dit vyande van mekaar is, waarskynlik baie kunsmatig is. In die debat oor gesinsbediening vs kinderbediening is dit nie óf-óf nie, maar én-én.

3.8) Die “wie” met jou jeug werk, is belangrik.

Die sukses van ‘n jeugbediening hang nie af van die programme wat aangebied word nie, maar van die persone wat dit aanbied. Prof Kenda Dean het vir ons van verskeie voorbeelde vertel waar onwaarskynlike programme groot sukses behaal, bloot oor die persone wat dit aanbied iets beliggaam wat jongmense inspireer. In etlike van die gevalle is hierdie persone bejaard. Dit beteken nie dat die jongmense met alles saamstem wat gedoen of gesê word nie, maar hulle vind genoeg sekuriteit in die persoon om selfs van hom of haar te mag verskil.

Prof Kenda Dean praat met ons o.a. oor die “Lockbox theory”.

Wanneer iemand leiding neem wat nie sensitief is vir jongmense se besware en twyfelvrae nie, mag ‘n jongmens dalk in ‘n situasie kom waar hy/sy op die oog af instemmend knik op alles wat gesê word, maar afvallig word teen die tyd wat hy/sy tersiêre onderrig ontvang.

Een van die redes vir hierdie verskynsel, is die “Lockbox theory”. Hiervolgens word ‘n jongmens blootgestel aan die Christendom en verkry die persoon kosbare ervaringe. Antwoorde neig egter om simplisties te wees en die wêreldbeskouing een dimensioneel.

Die oomblik wat hierdie jongmens met kritiese of opponerende denke gekonfronteer word – tipies tydens tersiêre onderrig – besluit die persoon om die kosbare ervarings van die Christendom in ‘n “lockbox” weg te bêre tot nadat hy/sy die studies voltooi het. Uit vrees om uitgekryt te word as “onwetenskaplik”, “agterlik” of “oudmodies” besluit die jongmens om vir die oomblik eerder te konformeer ter wille van vrede, en dan later terug te keer na die waardes en wêreldbeskouing van die Christendom.

Na jare se studeer kom die persoon dan weer op ‘n dag af op die “lockbox” vol ervaringe, waardes en wêreldbeskouinge van die verlede. Hoewel kosbaar, is die herinnering so vêr verwyderd van wat die persoon tans beleef en hoe die persoon sy/haar lewe op die oomblik inrig, dat dit ondenkbaar is om ooit terug te keer na daardie lewe. Gevolglik sluit die persoon dit weer toe en stoot hy/sy die “lockbox” onder die bed in om vir altyd daarvan te vergeet.

Die essensie van die teorie is dat jongmense wat hierdie oorkom, nooit by hul jeugleiers geleer het om geloofsverskille te hanteer of hoe om kritiese stemme te beantwoord op vrae oor die geloof nie. Die jongmens het nooit geleer om misterie te waardeer en het nooit – wat Richard Rohr “non-dual thinking” noem – aangeleer nie.

Jeugleiers is dit dus aan jongmense verskuldig om oop te wees vir kritiese vrae sonder om dit af te maak of hulle belaglik te laat voel. Hulle moet jongmense van vroegs af blootstel aan kritiese stemme sonder om strooipop-argumente op te maak. Hoe vroeër die jongmens leer om met die veelkantigheid en kompleksiteit van geloof saam te leef, hoe beter is die kans dat daardie geloof lewenslank sal bly.

3.9) Losstaande kursusse vorm ‘n geheelprent.

Daar is ‘n baie positiewe houding teenoor kursusse en toerustingsgeleenthede in die Amerikaanse Kerk. Die term “Sondagskool” is nie iets in die Amerikaners se gedagtes wat primêr gerig is net op die kinders nie – óók volwassenes deurloop voortdurend vrywillige volwasse kategese.

Die kursusse wat aangebied word wissel in aard, inhoud en tydsduur. Die belangrikste waarneming in hierdie verband was egter dat dit nie lukraak geskied nie. Daar is ‘n strategiese verloop, in die sin dat hoewel ‘n kursus losstaande aangebied word, daar ‘n gepaardgaande kursus is wat ‘n logiese opvolgkeuse sou wees op die een wat jy tans deurloop. Op hierdie manier deurloop lidmate een kursus na die ander, en word hulle oor die langtermyn geweldig verryk.

Shepherd’s Grove se beoogde nuwe strategie.

Chad Blake van Shepherd’s Grove het byvoorbeeld vir ons met diagramme aangedui hoe hulle poog om elke besoeker wat ‘n “klas vir nuwe lidmate” deurloop, by ‘n omgeegroep te laat inskakel. Vandaar wil hulle omgeegroeplede skuif om vrywilligers te word wat diens in die gemeente of gemeenskap lewer. Die vrywilligers word weer op hul beurt deur middel van “Grow Classes” opgelei om selfstandige gelowiges te word wat genoeg selfvertroue het om as “leke-bedienaars” in die gemeenskap op te tree.

Saddleback het waarskynlik die mees treffende visuele uitbeelding van die proses wat hulle ‘n lidmaat deurneem. Die bofbal diamant beeld stel hulle struktuur voor en die konsentriese sirkels hulle strategie. Daar is ‘n reeks kursusse beskikbaar onder elke bof.

Saddleback se bofbal-basisse.

Saddleback se konsentriese-indelings.

Oor die breë gesien, handel die 101 klasse oor die oriëntering van die gemeente. Die 201 klasse fokus op persoonlike geestelike groei. Die 301 klasse werp lig op die lidmaat se bedieningsmoontlikhede, terwyl die 401 klasse gelowiges begelei om hul lewensroeping uit te leef.

Die meeste van hierdie kursusse is ‘n eenmalige kontaksessie van sowat 3 ure en word op ‘n weeksaand aangebied. Dieselfde kursusse word dan herhaaldelik deur die loop van die jaar aangebied. Kursusse gaan voort ongeag of daar 50 of 5 inskrywings is. Die leraars besef dat ‘n hele gemeente oor die langtermyn getransformeer word omdat daar kontinuïteit is.

Ek moet egter herhaal dat wat my die meeste aangespreek het van die Amerikaners se toerustingsgeleenthede, is die feit dat die kursusse nie lukraak uit die lug gegryp word nie. Hoewel die kursusse geïsoleerd bygewoon kan word, vorm almal saam ‘n volledige kurrikulum wat ‘n duidelike groeiproses veronderstel.

Hierdie strook vir my met wat Winseman in sy boek “Growing An Engaged Church” sê, naamlik dat iemand presies moet weet wat van jou as lidmaat verwag word. Jy moet die gevoel kry dat jou toerusting êrens heen oppad is.

Na afloop van die studietoer in die VSA sit ek met ‘n prentjie in my kop oor hoe die beskikbare kursusse in NG Witrivier op ‘n inheemse manier visueel uitgebeeld en gesorteer kan word. Ek droom oor die uitbreiding van daardie kursusse, maar ook oor die moontlikheid om diepte in ‘n hele gemeente te bewerk, bloot deur oor ‘n langtermyn kursusse vir enkelinge aan te bied.

3.10) Estetika is belangriker as wat ons dink

Ek was getref deur die stylvolle manier waarop geboue, lokale, sale, dekor, liturgiese ruimtes, kantore en selfs kantoortoerusting ingekleur is. Mens sien dit in letterlik elke kerk se kinderbedieningslokale. Jy sien dit in die gemeente se voorportaal, hulle ontspanningsarea’s en die lokale waar daar kursusse aangebied word. Dalk belangrikste van alles, sien mens dit in hoe die kleedkamers lyk.

Ek het besef dat ons meestal vashaak by die vraag of iets funksioneel is – werk dit? Suksesvolle ruimtes gaan egter oor baie meer as net funksionaliteit. Dit gaan ook oor die estetiese appél wat dit los. Daarom sal ‘n gemeente soos NorthPoint elke 7 tot 10 jaar ‘n professionele binnenshuise versierder kry om die gemeente se dekor geheel en al oor te doen.

Northpoint se vertrek waar die “Starting Point”-kursus aangebied word. Let op die woord “environment”.

Die vertrek word nie met duur meubels toegerus nie – maar met keurige smaak wat die doel van die lokaal dien.

 

Chase Oaks se kuierarea is nie net funksioneel nie. Dit het ‘n estetiese appél.

Prof Kenda Dean van Princeton universiteit het ook in hierdie verband iets genoem wat my baie getref het. Dit het gehandel oor hoe generasies op verskillende maniere bepaal of iets vir hulle belangrik is. Prof Dean sê wanneer mense iets beoordeel, vra ouer lede in ‘n gemeente “Wat is reg?”. Die middeljariges vra “Wat werk vir my?”. Hierdie geslag se generasie X en Y vra “Wat is mooi?”. Wéér word die belang van estetika in gemeentesentrums vir my deur hierdie drie eenvoudige sinne onderstreep.

 

3.11) Die krag van vennootskappe

Fifth Avenue moes snoei aan die getal vennootskappe sodat hulle meer effektief kan werk.

Een van die eerste tendense wat vir ons sigbaar was, was die feit dat suksesvolle gemeentes nie alles sélf probeer doen nie. Dinamiese gemeentes staan in vennootskappe met ander organisasies, bedieninge en kerke.

Marble Collegiate werk saam met “Habitat humanity” om ‘n dak oor mense se kop te kry, met “Thistle farms” om vrouens wat slagoffers van mensehandel was weer op die been te kry, en met die “Stephen Ministry” om pastorale opleiding aan hulle lidmate te verskaf. Dit is maar om ‘n paar voorbeelde te noem. Op ‘n soortgelyke manier bestuur die Central Presbyteriaanse gemeente in Atlanta, hulle skuiling vir mense wat in ‘n tydperk van haweloosheid is met die hulp van etlike ander kerke in die omgewing. Nie een probeer die kollig steel nie en niemand voel bedreig deur die ander se betrokkenheid nie.

Daar is egter ook ‘n perk aan vennootskappe. Wanneer ‘n gemeente ‘n sekere hoeveelheid vennootskappe verbysteek, boet jy in op diepte. Fifth Avenue gemeente in die hartjie van New York was pas deur ‘n pynlike snoeiproses waartydens hulle etlike van die vennootskappe wat hulle deur die jare opgebou het, gestaak het. Volgens die leraars het hulle onder die indruk gekom dat dit veel beter is om in plaas daarvan om by 60 organisasies ligweg betrokke te wees, eerder by 15 organisasies diepgaande betrokke te wees.

3.12) Alles word getel

Een van die groot uithangborde in Chase Oaks se kerkkantoor.

Ek was getref hoe maklik gemeenteleiers syfers vir ons op die punte van hulle vingers oor die huidige stand van sake in hul gemeente kon opnoem. Hulle het nie ‘n benaderde getal genoem van hoeveel omgeegroepe daar is of ‘n rowwe skatting uit hul duim gesuig oor hoeveel mense die afgelope week se eredienste bygewoon het nie. Dit was vir my duidelik dat “die syfers” bygehou word en dat die leier hom/haarself elke week daarvan vergewis.

Die leiers kon vir ons presies sê hoeveel vrywilligers dit neem om ‘n Sondagoggend se erediens moontlik te maak, hoeveel mense tans by omgeegroepe inskakel, hoeveel mense op die oomblik in die gemeente êrens in ‘n bediening dien, hoeveel mense elke maand dankoffer gee en selfs wat die ouderdomsverspreiding van die mense is wat dankoffer gee.

If you don’t count it, you can’t manage it

Ek dink die onderliggende rede waarom hulle so gesteld daarop is om alles te tel, te vinde is in die groot klem wat hulle op rentmeesterskap plaas. Leiers se identiteit as “rentmeesters” het kort-kort in die gesprekke na vore gekom, en dit wil vir my lyk dit is die beweegrede waarom daar van alles boekgehou word. Een slagspreuk wat ek byvoorbeeld teëgekom het, lui: “If you don’t count it, you can’t manage it”.

Ek ontmoet die dinamiese Rev William Lamar van A.M.E.

Maar dit is nie net koppe en dollars wat met eksaktheid mee gewerk word nie. Ook die mikpunte in gemeentewerk is verifieerbare uitsette. Die leraar William Lamar van die African Methodist Episcopal Church in New York, het hulle 5 jaar strategiese plan vir my gegee. Hierdie verslag bevat meetbare uitkomste wat selfs die dag en datum bevat wanneer die uitset voltooi moet wees. Die leraars se bereidheid om aanspreeklik gehou te word vir die uitvoerbaarheid van die strategiese plan is prysenswaardig en mens kan nie anders as om diep beïndruk te wees met hulle duidelik geformuleerde mikpunte nie.

Die interessantheid is dat terwyl álles in die gemeentes getel word, daar een vraag was wat nie een gemeente kon – of wou – antwoord nie. En dit was ironies genoeg hoeveel lidmate op die boeke is. Meer daaroor in die volgende punt.

3.13) Lidmaatregisters is uitgedien

As jy die gesondheid van ‘n gemeente wil bepaal, is lidmaatregisters die heel swakste metriese sisteem wat jy kan gebruik. Byna al die gemeentes wat ons besoek het, het geheel en al wegbeweeg van lidmaatregisters en gebruik nou “Engagement” as maatstaf.

Die boek “Growing An Engaged Church” wat groot omwentelinge veroorsaak.

Chase Oaks is een so ‘n gemeente. Hierdie gemeente besit nie ‘n lidmaatregister nie en weet glad nie hoeveel mense daar is wat as “lidmate” van die gemeente mee identifiseer nie. Chase Oaks kan wel vir jou presies sê hoeveel leiers daar in hulle gemeente is en hoeveel mense daar is wat êrens dien. Iemand wat dien doen dit vrywillig en om ‘n leier te wees beteken vir hulle dat jy verantwoordelikhede dra.

Ek was opgewonde om hierdie neiging by al die gemeentes te sien, want ons het in 2016 in ons eie gemeente begin om te raak aan Winseman se “Growing an Engaged Church”. Dit spoor my aan om hierdie proses verder te neem.

Lidmaatregisters dien in ons konteks steeds ‘n doel, naamlik dat die kontakbesonderhede daarin vir ons toegang tot mense gee. Dit dien as’t ware as ‘n kliëntebasis – en daarom moet lidmaatregisters op datum bly. Maar lidmaatregisters kan nie meer gebruik word om te sê: “Dit gaan goed in ons gemeente want ons het 1800 lidmate” nie. Daardie statistiek is absoluut niksseggend.

Engagement” – oftewel “meelewing” – as toetsinstrument meet nie die hoeveelheid passiewe toeskouers nie, maar eerder die getal aktiewe betrokkenes wat inskakel by omgeegroepe, vrywillige diens lewer en dankoffer gee. “Engagement” is ‘n veel getrouer maatstaf van hoe dit werklik in ‘n gemeente gaan. Maar nog belangriker as betrokkenheid, meet “engagement” hoe mense oor die gemeente vóél.

3.14) Die toekoms van finansies

Roger Young praat met ons oor die bestuur van hulle gemeente se finansies.

North Avenue gemeente se finansiële voorsitter, Roger Young, verduidelik dat – anders as vroeër – die Kerk deesdae net een van vele organisasies is waarvoor die mense donasies kan gee. Dit beteken dat die Kerk minder dankoffer ontvang as 20 of selfs 10 jaar gelede. Verder sit jy met die probleem dat die Kerk geld ontvang van oorwegend ouerwordende lidmate. Dit is omdat ouerwordende lidmate meer “exposable income” het, as mense met byvoorbeeld kinders. Die probleem waarmee jy sit is dat ‘n disproporsionele groot gedeelte van elke gemeente se begroting, deur ouerwordende lidmate gedra word. Daarom moet die Kerk betyds planne beraam hoe om die dankofferinkomste aan te vul, vir die dag wanneer mense van 70 of ouer begin wegval.

Daar is in North Avenue ‘n professor in ekonomie, en hy het uitgewerk dat vir North Avenue se konteks, elke persoon ouer as 70 wat dankoffer bydra, “vervang” sal moet word deur 7 persone in hul twintigs of 3 persone in hul dertigs. Anders sal die Kerk nie met al haar werksaamhede kan voortgaan nie. Dit klink vir my asof hierdie beginsel rofweg net sowel vir alle gemeentes kan geld.

Professor Ken Callahan lig ‘n ander ewe belangrike rede uit waarom die Kerk deesdae minder dankoffer ontvang as vroeër: Die manier van gee het verander. Dr Callahan gebruik die metafoor van ‘n maraton en ‘n naelloop. ‘n Maraton is lank en stadig. ‘n Naelloop is kort en vinnig. In die verlede het lidmate dankoffer soos ware maratonners gegee. Dit was ‘n langtermynproses, en as iemand eers begin gee het, kon jy daarop reken dat die persoon daarmee sal volhou. Deesdae verbind niemand hulle meer so langtermyn nie. Maar dit beteken nie dat mense nie gee nie. Mense is geneig om vandag eerder soos naellopers van hulleself te gee. Hoewel dit dalk kortstondig mag wees, sal die persoon alles gee wat hy/sy het. Hy pleit dat die Kerk sal leer hoe om die taal van korttermyn naellopers te praat. Loods eerder ‘n projek waarvoor iemand kan gee, as wat jy mense wil oortuig om in ‘n bodemlose put hul dankoffer te stort.

Callahan sê die mooi van die saak, is dat ‘n maraton se afstand ook opgemaak kan word uit ‘n rits resiese van korter afstande. Daardeur probeer hy sê dat die Kerk dieselfde in die toekoms sal kan vermag, deur net die manier te verander van hoe ons oor dankoffer dink en praat.

3.15) Vaartbelynde kommunikasie

Effektiewe bemarking en kommunikasie is deesdae ‘n wetenskap op sy eie. Dit is duidelik dat die gemeentes wat ons besoek het, almal goed onderlê is in die basiese beginsels wat in die nuwe era geld, soos dat slegs een Facebook- en Twitterprofiel, en een amptelike Youtube kanaal gepromoveer moet word. Dit was interessant dat nie al die gemeentes “apps” gehad het nie, maar almal het mooi webtuistes gehad. Die webtuistes was baie uiteenlopend van aard. Party het ‘n minimalistiese invalshoek gehad, terwyl ander baie besig was. Dit lyk nie vir my of daar al ‘n reël mbt dit geld nie.

Stylvolle, eenvoudige verwelkoming en afkondigings by NorthPoint.

Die gemeentes wat ons besoek het, was elkeen dinamies in eie reg. Elke gemeente was ‘n miernes van bedrywighede. Tog het dit my opgeval hoe elegant hulle afkondigings tydens die erediens is. In nie een erediens wat ons bygewoon het, was daar ‘n eindelose rits afkondigings aan die begin of einde nie. Meeste gemeentes se afkondigings was ‘n video met treffende grafiese – en beeldmateriaal wat gespeel het. Maar selfs hierdie digitale afkondigings was stylvol en tot die minimum beperk.

Prestonwood gemeente het byvoorbeeld 1600 funksies per dag. Almal is verdienstelike sake. Tog is dit onmoontlik om “lugtyd” vir almal te gee. “Hoe op dees aarde kry hulle dit reg om hul kommunikasie so vaartbelyn te hou?” het ek by myself gedink.  Dit was die vraag wat in my gemoed geleef het.

In die gesprek met die leraars, het hulle gesê dat slegs afkondigings wat op almal van toepassing is, uitgelig word – maar hulle het toegegee dat selfs met daardie kriteria dit steeds moeilik is om te kies. Die meeste bemarking word egter in die omgeegroepe gedoen. Die persoon in die omgeegroep wat verantwoordelik vir admin en afkondigings is, ontvang weekliks ‘n lys afkondigings om in hul groep deur te gee. Die kantoor gee ook net afkondigings deur wat van toepassing is op die betrokke omgeegroep se profiel.

Nog ‘n tegniek wat ek waargeneem het hoe gemeentes kommunikasie vaartbelyn  hou, is deur ‘n kwartaalikse koördineringsvergadering.  Aan die einde van elke kwartaal kom alle bedieningsvoorsitters met hul relevante datums vir die volgende kwartaal, na ‘n beplanningsvergadering. Hier word beplan watter aksie teen watter datum blootstelling benodig – en of sommige van die bedieninge nie dalk mekaar se hande kan neem om ‘n groter sukses daarvan te maak nie. In North Avenue gemeente duur so ‘n vergadering gewoonlik niks langer as ‘n uur en ‘n half nie, maar die moeite en konflik wat dit spaar is deur en deur die moeite werd, want aan die einde van die vergadering is die hele span op dieselfde bladsy en verstaan almal die groot prentjie.

3.16) Die belang van getuienisse

Ingang na Nassau se gemeentesentrum

Dit was opvallend dat die dinamiese gemeentes almal die krag van mense se verhale ontdek het. As iemand byvoorbeeld gedoop word, word daar eers ‘n video van die persoon gespeel waarin ‘n stukkie van die persoon se storie aan die lig kom. Dit sluk die gehoor in en die meelewing met wat nou gaan gebeur is soveel meer as daarsonder.

Our number one metric for success, is how many stories did we tell”~Glen Brechner

Ons het reeds gesê dat alles in dinamiese gemeentes getel word. En ons het ook na die nuwe neiging van “Engagement” verwys waar die waarlike belangrike dinge vir ‘n slag ook getel word. Maar Chase Oaks gaan nog een stappie verder. Glen Brechner sê: “Our number one metric for success, is how many stories did we tell”. Getuienisse dek die tafel vir letterlik elke program en elke bedieningsaksie. Waar kry hulle al hierdie stories? Die omgeegroepe word opgelei om met ‘n oor te luister sodat ‘n getuienis met potensiaal, dadelik herken sal word.

Elke leraar wat al iemand gevra het om ‘n getuienis te deel, sal ook die frustrasies ken van hierdie benadering. Die persoon kom onvoorbereid en dit raak te lank – of die persoon verwoord hulself nie goed nie en die verhaal val plat – of die klem val nie op die gedeelte van die storie wat jy wil uitlig nie, ens ens ens. Daarom het Nassau gemeente ‘n proses vervolmaak om getuienisse te deel. Hulle gebruik ‘n span van ongeveer 4 lidmate. Een lid van die span gaan voer net eers ‘n onderhoud met die persoon wat ‘n getuienis het. Die volgende spanlid is goed in skryfkuns onderlê en pen die getuienis neer op ‘n manier wat die regte klem op die regte plekke sit. Die persoon se verhaal word dan aan hom of haar voorgehou, en as die persoon bereid is om voor ‘n kamera te gaan sit, word dit dan verfilm deur die derde spanlid. Indien die persoon nie afgeneem wil word nie, is daar ‘n vierde spanlid wat die verhaal lees en wie se stem as verteller gebruik word. Deesdae het hul begin om selfs lidmate te gebruik wat as akteurs die getuienis wil uitbeeld. Die vertel van getuienisse het met ander woorde ‘n hele bediening in eie reg geword.

The Apostolic strategy was not the saving of souls but the planting of witnessing communities”~Prof Darrel Guder

Die groot voorreg om by Prof Guder se voete te sit en aan sy lippe te hang.

Niks hiervan is slim bemarkingsfoefies nie. Dit gaan oor met hoeveel styl jy die storie vertel van hoe God in mense se lewens betrokke is. Die wonderlike vir my was die teologiese onderbou wat Prof Darrel Guder van Princeton, so terloops uitgelig het . . . Oor wat die vroeë Kerk gedoen het om so suksesvol te wees, het Prof Guder gesê: “The Apostolic strategy was not the saving of souls but the planting of witnessing communities”. Hierdie één sin het vir my die belang daarvan onderstreep om meer te maak van mense se getuienisse.

3.17) Groeiende virtuele teenwoordigheid

Etlike van die gemeentes wat ons besoek het, saai hulle eredienste in die kuberruim uit. Sommige van die gemeentes het selfs tv-programme gehad. Om ‘n tv-bediening te hê maak my nie rasend opgewonde nie. Dit neem ‘n disproporsionele deel van jou begroting in beslag sonder om ‘n beduinde deel van jou gemeente te mobiliseer.

Marble Collegiate is die oudste protestantse gemeente in die VSA en een van die hoogtepunte wat vir my uitstaan.

Om eredienste oor die internet uit te saai, kos egter ‘n fraksie van die geld. Marble Collegiate gemeente is waarskynlik die mees onwaarskynlike kandidaat om ‘n suksesvolle virtuele teenwoordigheid te hê. Hulle is immers die oudste protestantse gemeente in die VSA. Maar net omdat ‘n gemeente oud is, beteken dit nie dat ‘n gemeente nie innoverend kan wees nie.  Die mense wat hulle op hierdie manier bereik, is wyd verspreid regoor die wêreld – in baie gevalle is dit mense in wie se plaaslike dorpie daar glad nie eens ‘n kerk is nie.

‘n Virtuele bediening is nie ‘n bediening wat nét ‘n voordeel inhou vir die ontvanger wat agter ‘n rekenaarskerm sit nie. Óók die mense wat in lewende lywe by die erediens inskakel pluk die vrug daarvan. Soos reeds elders vermeld moes Marble Collegiate vir hulself afvra “How does the world see this?”, toe hulle begin het om hulle eredienste uit te saai. Dit het die gevolg gehad dat eredienste met groter eenvoud ingekleur is – wat presies die behoefte van die mense was. Marble Collegiate het ook na afloop van die virtuele erediens ‘n geleentheid vir mense geskep om vrae oor die boodskap te epos. Toe hulle sien hoe groot behoefte daar is om in dialoog te tree met ‘n leraar, het hulle dieselfde gedoen met hulle gewone erediens. Deesdae is daar ‘n “Talk back session” sodra die mense verdaag. Hier kan enige iemand agterbly wat vrae oor die boodskap wil vra – of selfs wat wil verskil van wat gesê is. Dit word baie goed bygewoon en is nog ‘n voorbeeld van hoe die virtuele bediening die gemeente geleer het om by veranderde tye aan te pas.

Marble Collegiate het selfs die sagteware bekom wat maatskappye gebruik om virtuele vergaderings te hou. Hierdie sagteware stel jou in staat om byvoorbeeld 12 gesigte se videobeeld op een skerm te vertoon. Die gemeente gebruik egter die sagteware om ‘n aanlyn omgeegroep te fasiliteer. Dit klink onmoontlik – maar telkens wanneer ‘n nuwe groep se registrasie oopmaak, is die beskikbare inskrywings oomblikke later tjok-en-blok vol.

Dit lyk vir my die belangrikste ding om te onthou wanneer ‘n virtuele bediening geloods word, is dat mens nie te gou moed sal opgee nie. Vir ‘n jaar lank het Marble Collegiate se erediens maar 60-100 trefslae op die internet gekry. Maar na 5 jaar staan dit op 2000 trefslae per maand. Hulle “aanlyn aanbidding” het nou al gegroei tot so ‘n mate dat 1 uit elke 3 mense wat hulle bedien, deur die internet bereik word! Verder sê die leierleraar, Dr Brown, dat ‘n virtuele bediening jou konstant aan die dink hou. Wat verlede jaar gewerk het, werk nie noodwendig hierdie jaar ewe goed nie. Die blote feit dat mens geforseer word om konstant nuut te dink, is waardevol opsigself.

3.18) Intensionele beywering vir diversiteit

Een van die belangrikste lesse wat ek geleer het, het te make met die beywering vir diversiteit. Dit pla my geweldig dat ons nog nie in ons gemeente dit noemenswaardig regkry om die kultuurgrens deur te breek nie.

Daar sal altyd mense wees wat vra hoekom jy in ‘n Afrikaanse Kerk die kultuurgaping sal wil laat oorbrug, as daar reeds ander kerke bestaan waar mense van kleur kan inskakel. Ek kan op baie maniere hierop antwoord. Ek kan die gevaar van “groupthink” uitwys. Ek kan ook noem hoe verrykend dit is om gestimuleer te word met ander lewensbrille en noem hoe waardevol dit is om verskillende perspektiewe te hê as jy probleme moet oplos. Ek sou ook ‘n sterk saak kon stel dat dit bestaande lidmate help om in ons land beter te funksioneer, as hulle in die gemeente die blootstelling aan ander kulture kry en leer hoe om met hierdie mense saam aan projekte te werk. Ek sou dit ook teologies kon motiveer deur te sê dat die bruid van Christus geroep word om nou reeds die karaktertrekke te weerspieël wat ons eers eendag in volmaaktheid gaan hê – insluitend die feit dat ons samestelling uit verskillende volke en tale gaan wees. Maar ek sal op geen van hierdie punte vir nou ingaan nie. Laat ek net volstaan by die feit dat Thom Rainer se navorsing – soos uiteengesit in oa “Autopsy of a Deceased Church” – vir ons daarop wys dat gemeentes wat hulle deure gesluit het almal ‘n paar faktore in gemeen het. Een daarvan is dat hulle daarin misluk het om die veranderende demografie in hul gemeenteprofiel te weerspieël.

In die VSA kry dinamiese gemeentes dit reg om multikulturele eredienste te hou. Vroeër het ek dit oor die boeg van taal gegooi, en gedink dat hulle dit makliker het omdat almal daar Engels praat. Maar ek was verkeerd.

Die interessante is dat wanneer jy in New York se strate loop, jy nie Engels hoor nie. Dit is Frans, Spaans, Duits, Arabies, Japanees . . . meer as ‘n 120 tale word daar gepraat! Hulle sit dus ook met ‘n taalprobleem, maar kry dit steeds reg om multikultureel te bedien.

Glen Brechner van Chase Oaks het o.a. met ons gepraat oor die beywering vir diversiteit.

Ek het my ore gespits toe Chase Oaks vertel het hoe hulle diversiteit bevorder het, die oomblik toe hulle agterkom dat hulle demografie besig is om te skuif. Volgens die uitvoerende leraar, Glen Brechner, is die eerste beginsel “Staff for diversity”.

Ek het tot nou toe gedink jy wag totdat daar genoeg mense van kleur by jou eredienste opdaag, en wanneer daar genoeg mense van ‘n spesifieke etniese groep is, stel jy iemand aan wat as hul verteenwoordiger optree. Maar Brechner sê dit werk presies andersom. As enige een van ons by ‘n sosiale geleentheid opdaag, kyk ons onbewustelik of daar ander mense soos ek ook hier teenwoordig is. As daar nie iemand is nie, voel mens ontuis en vermy jy dit in die toekoms. As jy dus diversiteit begeer, moet jy jou intensioneel daarvoor beywer. Alvorens mense van kleur gaan opdaag, moet jy pro-aktief sorg dat daar iemand van kleur is met wie hulle kan identifiseer.

Hierdie beginsel van “staff for diversity” is natuurlik ook van toepassing op geslag- en ouderdomsverteenwoordiging. As jy wil hê dat jou eredienste meer jong volwassenes moet trek, moet jy sorg dat jou lof- en aanbiddingsgroep nie net uit ouer mense bestaan nie. As jy wil hê dat vrouens meer verteenwoordiging in jou strukture moet geniet, moet jy ‘n vroulike leier groter sigbaarheid gee.

Hierdie dinge gebeur ongelukkig nie vanself nie. Dit is die verantwoordelikheid van die leier. As ons nie vorentoe beur en intensioneel ons vir diversiteit beywer nie, sal die groep altyd na homogeniteit neig.

3.19) Betaalde poste gaan in die toekoms anders lyk

Tot op hede ken die Kerk in Suid Afrika 4 soort betaalde amptenare: Die dominee, die kerkkantoordame, die koster en orrelis. In uitsonderlike gevalle kry jy gemeentes wat al ‘n gemeentebestuurder aangestel het. Om een of ander rede dink ons die heeltyd binne die grense van hierdie 4 of 5 posbeskrywings. Ek het egter in die VSA gesien dat gemeentes nie maar net nog ‘n leraar beroep nie.

Fifth Avenue is een van die gemeentes wat gekies het om ander poste te skep as net ‘n tradisionele “bedienaar van die Woord”.

In etlike gemeentes het ons betaalde amptenare teëgekom wat vroeër in die sakewêreld of regslui was, en nou hulle leierskapsvaardighede in die Kerk inspan. Baie gemeentes was maw dapper genoeg om te vra of hulle regtig nóg ‘n bedienaar van die Woord nodig het? Is daar nie dalk ‘n meer drukkende behoefte in die gemeente se bediening nie? Kan hulle nie dalk die bediening van die gemeente uitbrei, anders as net deur nog ‘n predikant te beroep nie? En dit is dan wanneer gemeentes lekker kreatief raak! In plaas van een leraar te beroep, vul hulle dalk eerder 5 halfdag poste vir dieselfde geld. Marble Collegiate het byvoorbeeld 5800 lidmate en glad nie ‘n tekort aan geld nie. Hulle het egter net 3 leraars en het gekies om byvoorbeeld eerder ‘n terapeut aan te stel wat meer in diepte help met berading, ‘n IT spesialis wat help met hul aanlyn bediening asook die onderhouding van die webtuiste, ‘n kinderopasser wat in die aande beskikbaar is om na lidmate se kroos om te sien as hulle vergaderings of eredienste by die kerk bywoon, ‘n maatskaplike werker wat professionele dienste verrig. Dieselfde kan gesê word van Fifth Avenue Presbyterian gemeeente (en nog ander voorbeelde).

Die Kerk sal goed doen as sy nie maar net aanneem dat ‘n sy ‘n pos deur ‘n dominee móét vul nie. Ek sien dat die Kerk van die toekoms eerder poste gaan skep vir fotograwe, videograwe, webmeesters, joernaliste, grafiese ontwerpers, kleuterskoolonderwysers, sielkundiges, beraders, terapeute en maatskaplike werkers.

4.) Indrukke oor leierskap

4.1) Effektiewe leierskap is langtermyn leierskap.

Ek het raakgesien dat effektiewe leierskap, langtermyn leierskap is.

Dr Scott Weimer van North Avenue se gelyktydig oorwoë en passievolle leierskap, het my diep geraak. Hy is vanjaar 20 jaar leierleraar by die gemeente.

Die navorsing van Thom Rainer – soos uiteengesit in “Autopsy of deceased Church” asook “Breakout Churches” – toon aan dat die gemiddelde termyn van ‘n predikant tussen 3 en 4 jaar in ‘n gemeente is. Daar is etlike redes vir hierdie verskynsel en Rainer gaan daarop in. Maar sy navorsing toon ook aan dat dit baie skadelik vir ‘n gemeente is as daar nie ‘n langtermyn leier is wat kontinuïteit bewerk nie.

Dit was die boekekennis wat ek gehad het. Maar nou  het ek in praktyk gesien hoe leraars van North Avenue, Central Avenue, Lake Avenue, Fifth Avenue, Marble Collegiate en Nassau gemeente dit regkry om na jare steeds gemotiveerd en passievol in dieselfde gemeente te dien. Die gemeente en gemeenskap vertrou die leraar ten volle.

Gesprekke met Prof Malan Nel oor hierdie onderwerp en oor wat sy eie navorsing ook hieroor bevind het, het my baie gehelp, bemoedig en aan die dink gesit. As ek ‘n keuse maak om langtermyn in ‘n gemeente te dien, is dit nie iets om oor skaam te wees nie.

4.2) Leiers hou die groot prentjie in gedagte.

Dit was vir my duidelik dat leierleraars baie tyd daaraan spandeer om aan te hou droom oor die bediening. Dr Michael Brown van Marble Collegiate het bv genoem dat jy elke vyf jaar jou gemeente moet herontwerp om relevant te bly. Dit is natuurlik baie maklik om vasgevang te raak in die alledaagse eise van die bediening. Daarom moet ‘n leraar die groot prentjie in gedagte hou en doelbewus die gemeente “stuur”. In baie van die leraarspanne is daar om hierdie rede uitvoerende leraars (executive pastors) wat hulle besig hou met die alledaagse “nuts & bolts” van die gemeente, en leierleraars wat visiedraers. Ek was getref hoe almal hulle inspan om die leierleraar se droom vir die gemeente te verwesenlik.

Ek ontmoet vir Chad Blake, die uitvoerende leraar van Shepherd’s Grove. Hy en Bobby Schuller, die leierleraar, vul mekaar verstommend aan.

In hierdie verband kan ek bv die mooi gesindheid van Chad Blake opnoem – een van Shepherd’s Grove se uitvoerende leraars – wat bankvas agter Bobby Schuller staan. Daar is geen gevoel van bedreiging of minderwaardigheid nie, want sy rol is nie minder belangrik as sy vriend s’n nie. Dit is net anders. Waar Chad hom besighou met die dag-tot-dag-detail, hou Bobby hom besig met koersbesluite. Saam vul hulle mekaar pragtig aan. Dit het my persoonlik herinner om nie vas te val in die mikrobeheer van die gemeente nie, en my aangemoedig om aan te hou droom oor die groot prentjie van Witrivier se potensiaal.

4.3) Leiers se papierwaardes vat grond.

Ek moet eerlik wees dat ek tot nou toe baie skepties was oor hoe sinvol visies en missies is. Ek het net te veel gesien hoe sulke dinge pragtig op papier lyk, maar geen invloed in die praktyk uitoefen nie. Die gemeentes in die VSA het my egter verkeerd bewys. Goeie leiers besef dat enige visie ‘n “lekverlies” het. As jy nie gereeld daaroor praat nie, verdwyn dit uit die harte van mense. Daarom kommunikeer leiers die gemeentes se DNA waardes, visie en missie konstant.

Uitvoerende leraar van Lake, Jeff Mattesich, het o.a. met ons oor Lake Avenue gemeente se personeelwaardes “Discussable, Dialogue & Decision” gepraat.

Ek dink byvoorbeeld hoe Chase Oaks se “Come as you are. Be Transformed. Make a difference”, hulle hele bedieningspraktyk bepaal. Letterlik elke lidmaat met wie jy praat kan dit vir jou opnoem. NorthPoint se “Connect. Serve. Give” kan ook in hierdie verband genoem word. Ek was diep geraak deur hoe alle konflik in Lake Ave gemeente (onder beide personeel en lidmate) deur die DNA waardes van “Discussable, Dialogue & Decision” opgelos word. Dit is ‘n leier se verantwoordelikheid om intensioneel ‘n gemeente se visie, missie en waardes deurgaans aan lidmate te kommunikeer – en waar dit gebeur belyn die liggaam haarself mettertyd beslis met die visie.

4.4) Vir leiers is prediking ‘n prioriteit.

Dr Michael Brown van Marble Collegiate se insigte oor leierskap en prediking was vir my een van die hoogtepunte.

Al die gemeentes wat ons besoek het plaas groot klem op die belangrikheid van elke bediening. Daar word nie onderskeid getref tussen bedieninge asof die een noodsaakliker as die ander is nie. Elkeen is in sy eie reg belangrik. En tog word prediking telkens uitgesonder en oor ‘n ander kam geskeer. Dr Michael Brown van Marble Collegiate vergelyk die bediening treffend met die speke van ‘n wiel. Elke bediening in die gemeente is soos een speek in die wiel. Maar dit wil lyk asof prediking die episenter van die bediening vorm. As prediking nie prioriteit is nie, is dit net soveel moeiliker om mense opgewonde te maak oor die res van die bediening. Lidmate het wie weet hoeveel bronne tot hulle beskikking waar hulle na wêreldklas sprekers oor elke onderwerp onder die son kan luister. Dit vra dus van ‘n plaaslike predikant om deeglik voor te berei.

Carey Nieuwhoff stel dit treffend: Goeie prediking alleen, is nie genoeg om ‘n gemeente te laat groei nie. Maar swak prediking daarenteen, kan op sy eie genoeg rede vir mense gee om elders geestelike kos te vind. Ek sal moet sorg dat prediking altyd vir my ‘n prioriteit bly.

4.5) Leiers is gefokusd.

Chase Oaks is volgens my een van die gemeentes wat dit regkry om uiters gefokusd te bedien.

Dit is baie maklik om in die bediening deur soveel verdienstelike sake opgeslurp te word, dat jou tyd, energie en hulpbronne in al 4 windrigtings spat. Ek is opnuut getref deur die krag van gefokusde bediening.

Learn to say no to good things in order to say yes to better things”~Glen Brechner

Chase Oaks het doelbewus gekies om te snoei aan hulle bedieninge. Aanvanklik het dit hulle 300 lidmate gekos, maar hulle het voet by stuk gehou en gesê dat daardie bedieninge – hoewel verdienstelik – nie bydra tot die primêre visie van die gemeente nie. Die uitvoerende leraar, Glen Brechner, se woorde sal my altyd bybly: “Learn to say no to good things in order to say yes to better things”. Hierdie woorde strook vir my presies met die gedagtes van Greg McKeown se boek “Essentialism”.

Indien ek ‘n effektiewe leier wil wees, sal ek moet leer om my tyd en kapasiteit te spits op my primêre verantwoordelikhede. Dit beteken dat ek onder andere ook sal moet leer om ongelukkig “nee” te sê vir verdienstelike sake, sodat ek “ja” kan sê vir sake waar ek my hoogste bydrae kan lewer.

4.6) Leiers hou aan met leer.

Ek was getref deur die kultuur van leerbaarheid wat in dinamiese gemeentes geheers het. Dit het my opgeval dat leierleraars belese mense is. Hulle hou nooit op leer of lees nie. Ek kon ook agterkom dat hulle gereelde toerustingsgeleenthede vir hul personeelspanne skep om sodoende saam te groei en te ontwikkel.

Die leierleraar van Hopewell Metodiste Kerk, Steve Morton, is een van die vele leierleraars wat met ons oor gepraat het oor hoe belangrik dit is om te lees en aan te hou groei.

Die interessantste vir my, was dat wanneer ons rondom ‘n etenstafel met byvoorbeeld ‘n leierleraar van ‘n gesiene gemeente sit en eet, dat die persoon vir ons indringende vrae oor die bediening sal vra. Ons het gekom om by hóm te leer – en nou vra hy óns uit oor die bediening!? Ek het dit nie aangeplak beleef nie. Ek kon sien dat leiers innemend is en vrae vra. Dat hulle nooit voorgee om volleerd te wees nie.

Meer as ooit is ek oortuig dat ‘n leier wat nie aanhou leer nie, binnekort sal ophou lei. Of anders gestel: Dat ‘n leier wat aanhou leer – maak nie saak hoe oud hy of sy is nie – in staat sal wees om volgehoue, sinvolle, relevante leiding te gee.

4.7) Leiers lei leiers op.

Dit het my opgeval dat leiers nie mense onder hulle duim probeer hou nie, maar juis mense oplig, oplei en bemagtig. Ja, ek gee leiding. Maar lei ek genoeg intensioneel ander leiers op?

By dinamiese gemeentes is daar ‘n konstante klem op verbetering, verreiking en ontwikkeling van hulle leiers. Daar is geen einde aan leierskapstoerustingsgeleenthede nie. Nie net word omgeegroepleiers voortdurend opgelei nie, maar bedieningsleiers word verplig om ondervoorsitters op te lei sodat die leier hom- of haarself kan dupliseer.

Ek maak te min van die opleiding van leiers en ek maak te min van die duplisering van bestaande leiers. Dit is iets wat ek voortaan gaan regstel.

4.8) Leiers neem vrymoedigheid.

Partykeer wonder ek of jare en jare se pastorale sensitiwiteit nie mens se vermoë om leiding te gee aantas nie. Mens is so gekondisioneer om nie aanstoot te gee nie, om diskreet op te tree en sensitief oor te kom, dat jy verleer om met dapperheid jou standpunt te stel, of dit nou iemand ongelukkig maak of nie.

Dit het my bemoedig om iemand soos Kevin Haah, die leierleraar van New City Church te ontmoet. Hoewel hy ‘n teruggetrokke introverte persoon is, slaag hy daarin om sy span dinamies en beslis te lei.

Ek was sommer net weer opnuut geïnspireer deur die leiers wat ons teëgekom het, om groter vrymoedigheid te hê in die neem van leiding.

Dit het al dikwels gebeur dat ek uit vrees dat ek voorbarig sal oorkom, teruggestaan het in ‘n situasie waar ek eintlik leiding moes neem. Ek moet definitief daaraan werk om meer vrymoedigheid te neem, groter sigbaarheid te handhaaf en met meer selfvertroue die voortou te neem.

 

5.) Slotopmerking: Daar is groot waardering vir Suid Afrika

Dit was vir my opvallend watter geweldige respek die leiers met wie ons gekuier het, vir Suid Afrika het. Daar is uiteraard by hulle ‘n groot liefde vir ons natuur. Maar meer as dit is daar by hulle ‘n groot waardering vir ons bevolking, die intrige en drama wat hier ontvou.

Sommige van die leiers met wie ons gesels het, het al meer as 80 lande besoek en sê prontuit dat Suid Afrika die land is wat hulle die meeste beïndruk. Mens voel onkant gevang as jy dit hoor omdat mens nie so oor jou eie land dink nie – miskien omdat mens te subjektief betrokke is en dan nie meer perspektief op jou eie konteks het nie.

Maar etlike kerkleiers het vir ons gesê dat Suid Afrika – in hulle mening – op baie terreine Amerika vóór is. Veral in terme van wat op die vlak van rasseverhoudings gedoen word. Ons het al byvoorbeeld verder gevorder met die bekamping van institusionele rassisme as Amerika. Gesprekke oor byvoorbeeld restitusie wat hier algemeen is, is nog nooit in die VSA eers aangeraak nie.

My slotsom is dat ek na afloop van die VSA-studietoer opnuut bevoorreg voel om in die bediening te mag staan. Ek voel verder bevoorreg om in Suid Afrika te mag dien. Ek voel bevoorreg om die kans te mag hê om probleme reg te stel

nati@stander.co.za

Posts

Keep up to date!

Twitter timeline

2 responses to 40 Indrukke oor die toekoms.

  1. steve vd Walt March 3, 2017 at 8:47 am

    Nati, uitstekend!

  2. Nati! Hierdie is uitstekend opgeson. eintlik maak dit my kop biki moeg om dit alles te lees. Hierin le klomp wyshede wat met mooi onderskeiding hanteer moet word! Dankie hiervoor…

Leave a Reply

Text formatting is available via select HTML. <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

*